M. Hattingh

Ver reeds sien ek haar oor die Dokkie-skoolterrein aangestap kom. Sy is lief is vir haar eie kinders, maar ook vir dié kinders van die groter gemeenskap. Sy is ‘n mamma wat omgee. Haar hande is gewillig, maar haar hart nóg meer. Sy besef die belangrikheid van omgee met haar hele wese.

Om vir iemand te bid is ‘n gratis geskenk. Jy hoef nie ryk te wees om te kan gee nie. In Efesiërs 3: 14-15 lees ons hierdie woorde: “Ek kniel voor die Vader. Hy is die Vader van elke gemeenskap in die hemel en op die aarde.” Hoe van pas is hierdie woorde nie. Hy is nie net die Vader van ons harte nie, maar ook die Vader van elke gemeenskap.

Billy Graham het by geleentheid gesê as hy sy lewe oor kan leef, sou hy minder preek en meer bid. Waarom? Omdat daar krag in gebed is. Die Dokkie-gemeenskap besef dit, en daarom is daar ‘n groep mammas en selfs ‘n vurige ouma wat elke Vrydag bymekaarkom om vir ons skool en gemeenskap in te tree. Saam het ons die voorreg om die hoof, onderhoofde, onderwysers, kinders, administratiewe personeel en ander werkers aan die Here op te dra. Saam kon ons al vir personeel en kinders wat in die krisisuur staan, hande oplê en bid, met hul toestemming natuurlik. Saam kon ons die Here loof en prys vir beskerning, voorsiening, deurbrake, guns, en goedheid.   Saam stap ons die pad, hande gevat, met ons oë opgeslaan na die berge. ..

 Dit is egter so dat daar baie mammas is wat voltyds werk en nie Vrydae oggende kan bywoon nie. Dit maak nie saak nie, want bereidwillige hande en harte ken nie van perke nie. Saterdae staan hulle in die snoepie óf by die kosstalletjie en help met die verkope. Of hulle daag op wanneer die skool se tuin ‘n bietjie verlep voorkom. Dikwels is daar kinders met honger oë wat geduldig in ‘n ry staan en hul beurt en afwag. Wanneer hulle voor kom, kyk hulle in die sagte, vriendelike oë van die tannie wat kospakkies uitdeel – net nog ‘n mamma wat omgee. Daar is nie ‘n meer- of ‘n minder belangrike omgeemamma nie – hulle is almal ewe belangrik, deel van ‘n groter prentjie, ‘n liggaam wat saam as ‘n eenheid funksioneer.

Soms wens ek dat ons meer kon doen, maar ek het lank terug reeds geleer dat dit“okay” is om nie “okay” te wees nie, want dit leer mense ander dinge. Ek besef dat ons elkeen net ‘n stukkie moet bydra. Dit vat ‘n gemeenskap om ‘n kind groot te maak. Elke mamma wat omgee sien saam met die skool die waardigheid en potensiaal van elke kind raak. Hulle help om kinders te koester en beskerm, want kinders se veiligheid is ons almal se besigheid!

Die wonder is, wanneer ons uitreik, word ons gestig; wanneer ons omgee, lééf ons; en wanneer ons gee, ontvang ons juis. Liefde, omgee, hulp en gebed is maklik om weg te gee en tog is dit van die kosbaarste en grootste geskenke wat jy kan bied. Te dikwels onderskat ons die krag van gebed, die krag van aanraking, ‘n glimlag, ‘n vriendelike woord, ‘n eerlike kompliment of die kleinste daad van omgee

Mammas wat omgee doen sonder om terug te verwag. Korintiers 9:6 sê: “wie ruimhartig saai, sal volop oes.” Luk 6:38 sê: “Gee en vir julle sal gegee word, ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol sal hulle in julle hande gee. As julle gee, sal julle ontvang.” Dit is nie die rede waarom ons gee nie, maar dit is wel ‘n belofte wat soos saad in vrugbare grond lê, gereed om te ontkiem.

Dokkies, ons is mammas wat waarlik omgee. Ons sal ons hande stomp werk en ons knieë deurbid vir ons kosbare gemeenskap. We love you.